Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS SONDAG 14 AUGUSTUS 2016

Goeiemôre en welkom by die weeklikse nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, gelees deur ........................................... (jou naam, roepsein en QTH)

Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag om 08:15 Sentraal Afrika Tyd in Afrikaans en om 08:30 Sentraal Afrika Tyd in Engels landswyd 'n nuusbulletin uit op HF sowel as op verskeie BHF- en UHF-herhalers. Vir Echolink - luisteraars is daar 'n herleiding deur Johan, ZS6JPL. 'n Potgooi is ook beskikbaar op die Liga se webblad.

Hierdie oudio bulletin kan van die Liga se webblad by www.sarl.org.za afgelaai word. 'n Teks weergawe van hierdie en vorige bulletins kan ook daar verkry word en jy kan ook inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.

Ons begin hierdie bulletin met die nuus van 'n stil sleutel.

Dit is met leedwese dat aangekondig moet word dat die sleutel van Colin McNally, ZS6MAC, op Maandag 8 Augustus 2016 stil geword het.

Ons betuig ons innige meegevoel met sy familie en vriende.

POUSE


In die nuus vandag,

BELANGRIKE HERINNERING VIR ZU LISENSIEHOUERS OUER AS 25 JAAR

VEERTIEN SUID-AFRIKAANSE VUURTORINGS OP DIE LUG VOLGENDE NAWEEK

en

SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA HF DIGITALE KOMPETISIE VOLGENDE SONDAG

Bly ingeskakel vir meer inligting oor hierdie en ander interessante nuus items.

** Die maandelikse Suid-Afrikaanse Radioliga Jeug Net sal gehou word vanmiddag om 15:00 UTC. Sluit vanmiddag aan by Koos Fick, ZR6KF, op 7 070 kHz. Klubs word uitgenooi om die geleentheid te gebruik om jong persone aan amateurradio bekend te stel deur hulle te nooi om die geleentheid te gebruik om op die lug te praat onder die toesig van 'n gelisensieerde radioamateur.

** Een van die inisiatiewe van jou nuwe Raad is 'n gereelde Nuusflits. Die eerste Nuusflits sal in hierdie week aan alle lede gestuur word en sal ook op die SARL se webtuiste verskyn. Die doel van die Nuusflits is om 'n “Stand van die Liga” boodskap vanaf die President van die SARL aan radioamateurs te lewer.

** As jy 'n ZU lisensiehouer is en ouer as 25 is, sal jou lisensie op 31 Maart 2017 verval en sal nie hernubaar wees nie. OKOSA beveel aan dat die betrokke persone in skryf vir 'n Klas A lisensie kursus en die volgende RAE in Oktober 2016 af te le.

Die hersiene regulasies bepaal dat persone onder die ouderdom van 20 jaar die Klas B-eksamen aflê en indien suksesvol, 'n ZU of Klas B lisensie hou tot ouderdom van 25 jaar , waarna, indien hulle wil voortgaan met amateurradio, die Klas A eksamen aflê om te kwalifiseer vir 'n Klas A (ZS / ZR) lisensie. Op 31 Maart 2017 verstryk die grasietydperk dat die SARL onderhandel het met OKOSA.

Indien jy ouer is as 25 en nog steeds 'n ZU lisensie houer is, skryf gerus die Oktober-eksamen. Die eksamen materiaal is gratis beskikbaar en kan afgelaai word by www.sarl.org.za.

** SCS Space (’n filiaal in private besit van die Suid-Afrikaanse SCS Lugruimte groep) het ’n vennootskap met AMSAT SA aangegaan om te help met internasionale verspreide grondstasie fasiliteite vir hul QB50 satelliet, "nSight-1". Die gebruik van verskeie grondstasies sal die aflaai van wetenskaplike data en beelde (32 m resolusie) wat gegenereer word deur die satelliet, vermeerder. QB50 is 'n konstellasie van 50 CubeSats wat in 'n lae aarde wentelbaan geplaas sal word om laer termosfeer van die aarde se bestudeer. QB50 sal multi-punt, in-situ metings voorsien. Elke satelliet sal een van drie wetenskap sensors dra wat data daagliks sal genereer om afgelaai te word na die grondstasies.

Dit is 'n unieke geleentheid vir radioamateurs in Suid-Afrika om deel te neem in 'n interessante satelliet projek. Om deel te neem, stuur die besonderhede van jou stasie, soos send/ontvanger en antennas beskikbaar asook jou QTH na saamsat@intekom.co.za. Die volgende stap sal wees om deel te neem in 'n inligtingsessie wat op Skype in twee weke se tyd plaasvind. Meer besonderhede is beskikbaar op www.amsatsa.org.za.

** Die volgende AMSAT SDR gesprek op Woensdag 24 Augustus. Die tweede AMSAT SDR Gesprek is verlede Woensdag gehou toe 'n basiese breinkaart om 'n SDR transponder ontwikkel voorgestel en bespreek is. Gedurende die volgende twee weke sal die deelnemers die breinkaart invul wat dan tydens die volgende SDR gesprek bespreek sal word op Woensdag 24 Augustus. Vir meer inligting en hoe om deel te neem in die gesprek, besoek www.amsatsa.org.za.

** BHF DX kan tydens swak HF toestande gewerk word. Daar is baie lande regoor ons noordgrens, insluitend Namibië, Botswana, Angola, Zimbabwe, Zambië en Mosambiek. Verskeie van hierdie lande is reeds op BHF en wat nodig is, is om BHF aktiwiteit aan te moedig in soveel lande suid van die Sahara as moontlik. Ons lang kuslyn dek baie eilande soos Madagaskar, Reunion, Marion, Tristan da Cunha, Ascension en St Helena. Reunion-eiland is al baie keer op beide 144 MHz en 432 MHz gewerk; tot 'n maksimum afstand van sowat 3 240 km op 144 MHz ESB en digitale modusse. Afdeling 2 en 5 stasies het kontak gemaak met Marion-eiland op 50 MHz gelykgolf, ESB en FM oor 'n maksimum afstand van 1 880 km.

Die afstand tussen Kaapstad en Lüderitz is 845 km en is gewerk op beide 144 MHz en 432 MHz ESB. Kaapstad is sowat 3 000 km van St Helena Eiland af en dit moet 'n maklike teiken op 144 MHz ESB of FM wees. Die uitdagings is daar, dit verg net ernstige amateurs om dit te aanvaar en te bevorder, maar jy sal 'n horisontale Yagi en sowat 100 Watts nodig hê.

Dan is daar die TEP seisoen wat strek van September tot November en weer vanaf Februarie tot April, wat Afdelings 3, 4, 5 en 6 in staat stel om DX te werk rondom die Middellandse See op 50, 70 en 144 MHz.

Jy luister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga

** Die sluitingsdatum vir jou SARL HF-foonkompetisie logstate is middernag vanaand en moet gestuur word aan zs4bfn@mweb.co.za.

** Die sluitingsdatum vir die SARL JD Naelloop logstate is middernag op Dinsdag 16 Augustus en moet aan zs4bfn@mweb.co.za gestuur word.

** Die oudste en oorspronklike Internasionale Amateur Radio Vuurtoring Naweek geleentheid is op die lug op Saterdag 20 en Sondag 21 Augustus. Jy sal al die inligting op www.illw.net vind. Die geleentheid is NIE 'n kompetisie nie. Daar is geen pryse, sertifikate of ander aanloklikhede om deel te neem nie en dus is deelname gratis.

Daar is veertien Suid-Afrikaanse vuurtorings wat deelneem. Wees op die uitkyk vir ZS9V vanaf die vuurtoring op Robbeneiland, IOTA AF-064 en ZS1DJR van die South Head Vuurtoring by Saldanhabaai - dit sal die eerste aktivering vir South Head wees. Ander vuurtorings is ZS1BAK by Kaap Agulhas, ZS1C by Kaap Hangklip, ZS1CT by Groenpunt, Kaapstad, ZS1FC by North Head, Saldanhabaai, ZS1FRC by Slangkop Punt, ZS1OAK by Milnerton Vuurtoring, ZS1OAR by Danger Point, ZS2EC by Kaap Recife, ZS2PE by Seal Point, ZS2ZU by Donkin / The Hill, ZS5D by Cooper Vuurtoring en ZS5HAC by die Noord-Sands Bluff Vuurtoring. Probeer om al veertien te werk.

** Die doel van die HF Digitale kompetisie is vir deelnemers om kontak te maak met soveel amateurs in Suider-Afrika as moontlik op RTD en PSK31 op die 20, 40 en 80 m amateur bande. Die kompetisie vind plaas vanaf 13:00 tot 16:30 UTC op Sondag 21 Augustus 2016 met aktiwiteit op 3 580 tot 3 600 kHz, 7 040 tot 7 060 kHz en 14 070 tot 14 099 kHz. Jy kan deelneem as 'n enkel operateur enkel band stasie, 'n enkel operateur alle bande stasie, 'n multi operateur enkel band stasie of 'n multi operateur alle bande stasie. Die uitruiling is 'n RST verslag en 'n opeenvolgende reeksnommer wat by 001 begin Digitale kontakte tel 2 punte. Kry al die reëls in die 2016 Blouboek. Stuur jou log in ADIF, Cabrillo of MS Excel-formaat en gemerk "jou roepsein HF Digitaal," teen 28 Augustus 2016 per e-pos aan zs4bfn@mweb.co.za

** Die Sasolburg Radio Club is tans besig met toetse op 'n alternatiewe frekwensie vir hul Leeukop herhaler op die N3 naby Warden, in die Oos-Vrystaat. Die herhaler maak deel uit van die VHF netwerk wat in 1993 gestig is en gee dekking aan die weste, noorde en oos-Vrystaat provinsie. Deur die jare het die klub die netwerk operasioneel gehou en van tyd tot tyd is dit opgegradeer om betroubare kommunikasie vir die amateurs te verskaf wat met die N1 en N3 reis te verskaf.

Die doel van die toets is om inmenging te verminder deur en vanaf amateurs in die Wes-Rand en 'n groter Gauteng streek. Die frekwensie is verander van 145,625 MHz na 145,7375 MHz met 'n 88,5 Hz CTCSS toon. Die Klub versoek verslae van gebruikers in die streek, en dit kan aan zs4srk@gmail.com gestuur word.

** Aansoek vir lidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Radioliga is ontvang van die volgende persone - Ingo Berger, (hy wag vir sy roepsein) en Sinovuyo Nojoko, ZSL-1166

Enige besware teen die aanvaarding van die aansoeke moet die Liga-sekretaris bereik per e-pos voor of op Woensdag 17 Augustus 2016, stuur dit aan secretary@sarl.org.za. Die Liga het nou 1 203 lede en 34 geaffilieerde klubs.

** Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan wees. Die sigbare sonvlekke is tans stabiel met bykans geen kans vir ernstige sonfakkels nie. Diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van ongeveer 31 vir die week gebruik. Amateurs kan goeie openinge op die 15 tot 20 m bande verwag. Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

Nou vir die dagboek van gebeure:

Vandag - die SARL Jeug Net om 15:00 UTC op 7 070 en die sluitingsdatum vir SARL HF Foon logstate
16 Augustus - sluitingsdatum vir SARL YL Naelloop logstate
20 en 21 Augustus - Internasionale Vuurtoring en Ligskip Naweek
21 Augustus - SARL HF Digitale Kompetisie
24 Augustus - AMSAT SDR Gesprek
28 Augustus - SARL HF gelykgolf kompetisie en sluitingsdatum vir HF Digitale logstate
4 September - sluitingsdatum vir HF gelykgolf logstate
10 en 11 September - SARL Nasionale Velddag

Om hierdie bulletin mee af te sluit, 'n herhaling van ons belangrikste item in die nuus vanoggend.

Die maandelikse Suid-Afrikaanse Radioliga Jeug Net sal gehou word vanmiddag om 15:00 UTC. Sluit vanmiddag aan by Koos Fick, ZR6KF, op 7 070 kHz.

As jy 'n ZU lisensiehouer is en ouer as 25 is, sal jou lisensie op 31 Maart 2017 verval en sal nie hernubaar wees nie. OKOSA beveel aan dat die betrokke persone in skryf vir 'n Klas A lisensie kursus en die volgende RAE in Oktober 2016 skryf.

** Die Suid-Afrikaanse Radioliga se nuusdiens nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radio amateurs en kortgolf luisteraars in te dien. Plaas nuusberigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radioliga webtuiste onder die ‘news inbox’ skakel nie later as die Donderdag wat die bulletin datum voorafgaan nie.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 sentraal Afrika tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laer syband, 7 205 en 17 660 kHz AM en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Potgooi deur Dick, ZS6RO, is ook beskikbaar. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 sentraal Afrika tyd op 3 230 kHz plaas.

Ons ontvang graag jou sein rapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateur frekwensies.

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Dennis Green, ZS4BS, geredigeer deur Johan de Bruyn, ZS6JHB, en gelees deur .......................................................

73 en 88, dankie dat jy geluister het.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003